Afrikaans Gedigte

Prinses Lointaine (Prinses Van Verre)

AG Visser


Prinses Lointaine (Prinses Van Verre)

Was jy ’n rosebloesem
En ek die roos se geur,
Hoe heerlik deur die lewe
Steeds rondom jou te swewe.
Beswymend aan jou boesem,
Betower deur jou kleur.
Was jy ’n rosebloesem
En ek die roos se geur.

Was jy ’n lied se woorde
En ek die melodie.
Hoe sou die dag verheerlik
Jou skoonheid so begeerlik;
Die nag tril van akkoorde
En soetste harmonie.
Was jy ’n lied se woorde,
En ek die melodie.

Was jy die hoogste kranse,
En ek die sonnegloed.
Jou wange sou dan verwe
En op jou lippe sterwe
My eerste moreglanse
En laaste awend-groet;
Was jy die hoogste kranse
En ek die sonnegloed

Maar jy ’s Prinses van Verre
En ek... ’n troebadoer;
Al gloei ook my gesange
Van liefde en verlange,
- Die vuurvlieg vir die sterre -
Wat my ten hemel voer;
Jy bly Prinses van Verre
En ek... ’n troebadoer.

Last updated: 25th February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck