Afrikaans Geestelik

N Boesman Se Hemel

n Boesman se hemel


N Boesman Se Hemel

Agarob

Daardie aand slaap ek in die Kalahari, Oos van Gobabis, op pad na die destydse Betsjoeanalandgrens ( nou Botswana).  Dis Junie maand en bitterkoud. Ek maak ‘n vuurtjie agter ‘n swarthaakbos, sleep my slaapsak nader en ontspan daar terwyl die koffiewater in die swart keteltjie kook. Skielik hoor ek iemand sê: “ Kleinbaas kan ek maar na jou vuur kom?” 

Toe die man praat, hoor ek aan sy stem dat dit ‘n halfwilde Boesman is. Destyds was daar baie van hulle en almal was gewapen met ‘n pyl en boog.  Ek het egter geen wapen by my gehad nie. Ek sê toe: “ Kom nader en sit hier by my vuur.” Hy sleep vir hom ‘n stomp nader en neem stelling in. Ek sien nie die gewone pyl en boog nie. Nou, in die lig van die groot vuur sal ek sien dat dit ‘n ou Boesman is met grys peperkorrel haartjies. “ Wat is jou naam?”“Agarob, Kleinbaas”, kom die antwoord.
Hy vertel verder dat hy bees oppas by oubaas Klaas maar dat ‘n klomp jong beeste die namiddag weggeloop het en hy het hulle spore gevolg tot hier.  “ En toe sien ek gelukkig Kleinbaas se vuurtjie.” Ek skink vir hom ‘n blikbeker swart koffie, gooivyf lepels suiker daarin want ek weet dat hulle ‘n soettand het. Hy drink dit met smaak en së dat dit die eerste vogtigheid is wat hy heeldag ingekry het. In die tussentyd braai ek ‘n karakoelrib en wors op die kole. Na dit gaar is gee ek vir Agarob die helfde van alles en twee snye brood en botter. Na datons klaar geëet het lek hy sy lippe af en së: “Kleinbaas ek het lanklaas so lekker geëet.” 
Ons sit langs die vuur en hy vertel my van sy geboorte wêreld, noordwes van Botswana wat vandag bekend staan as die Dobe K!ung. Nog twee bekers koffie later begin ons diep dinge te gesels. 

Ek vra hom: “ Agarob as julle Boesmans sterf, waarheen gaan julle?” Hy sê: “ Kleinbaas na die Mooi Land anderkant die groot rivier. Die rivier droog nooit op nie. Die vrouens kan elke dag hulle kalbasse en volstruisdoppe daar gaan volmaak. Maar vir ons manne is die beste dat die elande, die koedoes, en springbokke altyd vet is in die Mooi land.”

Die anderdag oggend gee ek hom twee lemoene en twee appels. Hy sê vir my: “ Kleinbaas, ek sal lank voor jou na die Mooi land toe gaan maar op die stomp langs die groot vuur sal ek vir jou ‘n plek oophou.”

Last updated: 17th May 2021 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck