Afrikaans Gedigte

In die Hoëveld

Toon van den Heever


In die Hoëveld

In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar 'n mens nog vry kan asemhaal en aan 'n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees- of skaap-toe ry.

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring 'n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al 'n jaar of tien,
Waar die bokkies op die lei-grafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as 'n kind.

Last updated: 25th February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck