Afrikaans

Hengelaar vang groot kabeljou van 60 kg


Hengelaar vang groot kabeljou van 60 kg

kabeljouGeorge. – ’n Tamaai kabeljou – so lank en groot soos ’n volwasse man – het die oë laat rek toe ’n hengelaar dit op ’n strand naby die kusdorpie Glentana uitgetrek het.

Die vis van 1,8 m lank is verlede Saterdag deur Renier Nortje (39), ’n bewaarder van die departement van korrektiewe dienste in George, in die omgewing van die Botha-strand, Glentana, gevang. Die kabeljou het die skaal op 60,1 kg getrek.

“Dit was ’n gespook van byna 45 minute,” het Nortje Donderdag vertel. “Die vis het ongelukkig gevrek teen die tyd dat ek hom op die strand gekry het.”

Hy het aanvanklik nie besef dat dit ’n kabeljou is nie. “Eers later het ek dit besef.”

Volgens hom het mense van nabygeleë huise nuuskierig strand toe gestaan om die kabeljou van naderby te bekyk.

“ ’n Tannie het die vis een kyk gegee en gesê: ‘Dit is ’n m**rse groot vis’,” het hy vertel. “Ek is 1,75 m lank en die vis was langer as ek. Sy kop was groot en in sy pens het ons drie groot kolsterte gekry. ’n Kabeljou vreet enige ding.”

Terug by die huis het Nortje se seuntjie, Dillon Derché (4), aan sy pa gesê: “Maar jy vang groot visse.”

Volgens Nortje was die vis te groot om by die huis in ’n vries- of yskas te hou. Dit word vir eers in ’n restaurant se koelkamer gehou. Hy beplan om dit na ’n taksidermis te neem en as ’n trofee tuis uit te stal.

Last updated: 23rd June 2015 by http://www.netwerk24.com/nuus/2015-06-19-hengelaar-vang-grt-kabeljou-van-60kg?vc=l7p6adhvKezkybqC1b3CqLA0SvM5kL5GPfugYMWeng43y0Stw%2FIar5PLu0m19xZlzB9TAamAqHCuINJXZ11RYw%3D%3D

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck