Afrikaans Geestelik

Boere Maak Pad reg

This articles is translated under Farmers fix road Boere en hulle werkers maak pad reg en betaal self < h


Boere Maak Pad reg

This articles is translated under 'Farmers fix road'

Boere en hulle werkers

maak pad reg en betaal self!

skryf Peet Simonis

 Boere maak pad reg vir die HERE

 

Op n slegte stuk pad tussen Ficksburg en Senekal, het ek meer as twee honderd slaggate – klein en groot - getel oor n afstand van net ongeveer een honderd meter!

Boere maak pad reg vir die HERE

Party was groot en ander klein, maar die klem hier is op WAS – hulle IS nie meer nie, want 24 boere en hulle ongeveer 110 swart werkers het hulle reggemaak.

 

Boere maak pad reg vir die HERE

 

Dis ook nie net die 200 of so wat nou toe is nie - duisende ander slaggate is reggemaak oor ‘n totale lengte pad van 20 kilometer. Dis in net meer as  twee weke gedoen.

Kenners skat dit sou by ‘n miljoen of dalk dubbel soveel gekos het as die Staat die werk moes doen – en hy kon nie.

Die boere kon dit vir R284 000 gedoen – arbeidskoste ingesluit, volgens mnr Hannes Pretorius, een van die leiers (foto).

Boere maak pad reg vir die HERE

‘n Christen pad-ingenieur het raad gegee oor hoe om die werk te reg te doen. Dit het 240 ton gruis en 44 dromme teer en meer as n honderd sakke sement gevat om die gate toe te kry, maar toe die werk klaar was, het ‘n man met by die veertig jaar kennis van padbou gesê: “Dis beter as wat ek dit sou kon doen!”

 

Hannes sê die Here het hom gelei om kos te maak vir al die boere en werkers. Hulle het elke dag saam ge-eet - dieselfde kos, maar op verskillende maniere berei volgens keuse. Dit het by die R30 000 gekos.

 

Die boere se besluit om self in te spring en die werk te doen, het gevolg na maande se vrugtelose vertoeë  tot die regering. Die antwoord was altyd – “ons het nie die geld en die werkers om dit te doen nie!”

Terwyl die werk aan die gang was, is die hoof van die Regering se paaie- afdeling in die gebied genooi om saam met die boere en werkers te kom eet, maar wou nie kom nie. Die adjunk het uiteindelik gekom en verduidelik: “Ons was bang om te kom, want ons weet die boere vloek ons oor die paaie in so ‘n toestand is – maar wat kan ons doen sonder geld, werkers en kundigheid? Maar nou was ek hier en toe ek sien in watter gees julle die dinge doen, het daar n groot klip uit my hart uit gerol ..

Een van die redes waarom ek vandag die storie vertel, is oor daardie “gees” waarin die werk gedoen is. Ek glo dit het sy oorsprong en suksesvolle afhandeling in Gees met ‘n hoofletter.

Boere vertel dat die Here al lank werksaam is in die gebied. Baie kerke en geestelike bedienings het ‘n rol gespeel. Die Here het ook vir ds Petrus Grové gebruik.

Hy is ‘n nuwe sendeling in die gebied wat inter kerklik werk. Een van die hoof aksente in sy bediening is gefokus op die krag, vreugde en vervulling as gelowiges hulle geregtigheids-posisie in Christus begin verstaan en inneem.

In ‘n lewende verhouding met God wat daarop volg, verander die kind van God se hart, verstand en gees en dan hyself. Hy begin God se wil na letter en gees te doen. Dit het n positiewe invloed op die omgewing. Dis ook dan dat die boer sy werkers meer effektief met die Evangelie kan begin bereik sodat hulle ook verander.

Kinders van die Here wat die boodskap van hom en ander gehoor en begin leef het, het die begeerte gevoel om saam te kom en te bid. Daar is ook ander aktiewe gebedsgroepe in die omgewing. Van die boergesinne is deur diep waters met familielede wat vermoor is tydens plaasaanvalle.

‘n Ruk voor die padboubesluit, het ‘n groepie boere nog ‘n gebedsgroep gevorm op die plaas van Danie en Geertje Venter. Die groep kom elke weeksoggend sesuur bymekaargekom in ‘n ou skoolgeboutjie op die plaas en om daar te kom moet hulle juis oor die stuk teerpad ry wat van die slegste was.

Daar is gewoonlik so sewe tot tien wat saam bid, maar by geleentheid was daar al meer as twintig. Hulle bid nie net nie, maar deel ook hulle harte oor hoe die Here hulle lei en wat hulle voel belangrik is.

 ‘n Kerngroep van biddende boere uit hierdie en ander groepe was onder die wat die padbou-projek in erns begin bespreek het. Hulle invloed het soos suurdeeg gewerk. Ander gelowige boere wat nie deel van die bidgroep was nie, het ook besluit om met die projek te help en het uiteindelik ‘n groot aandeel gehad om die pad reg te maak.

  • Ek verduidelik wat hier gebeur het in taamlike besonderhede, want ek glo dis belangrik om die Here se voetspore in die saak te sien en te probeer volg. Wat hier gebeur het, kan uitkring na ander dele van die land.
  • Hier is n klomp boere wat dienaars geword het – net soos Louis Wilsenach anderdag gesê het moet gebeur in hierdie moeilike dae en tye. (Ek hoop jy het sy storie te lese gekry wat ek ge-epos het – anders vra gerus en ek stuur dit weer - Peet)

Ek wil byvoeg dat iets soos hierdie padbouprojek net in die regte gesindheid gedoen kan word as gelowige deelnemers vooraf in ‘n lewens veranderende Nuwe Verbond verhouding met God begin kom.

Laat my toe om kortliks te verduidelik asb.:

Die ou verbond met Israel was baie goed en gegrond op die hou van God se goeie wette (Deut 6 vers 25)...maar wat niemand kon hou behalwe Jesus nie.

In Jeremia 31:31 – 33, kondig God die Nuwe Verbond aan waarin Hy Sy mense van binne af (hart, gees en verstand) sal verander sodat Sy volk Sy wil sal doen. Jesus het hierdie Verbond ingelui met Sy sterwe en opstanding.

...En dit is wat ds Petrus Grove en baie ander geestelike leiers al sterker beklemtoon in hierdie dae.

As die herstel van paaie en rioolwerke en wat ookal verder deur vrywillige helpers in ‘n verkeerde gees aangepak word, sal dit meer kwaad as goed doen.

Dis nie die regte gees om die verantwoordelike owerhede net te wil  verkleineer, verneder en beskuldig in die trant van: “Julle is sommer gemors wat niks kan regdoen nie – kom ons wys julle hoe!”

Maar dit kan die begin wees van ‘n regtige “nuwe” Suid-Afrika as foute in ‘n konstruktiewe, opbouende manier onder oë geneem en dan saam en afsonderlik in n gees van liefde en geloof prakties aangedurf word.

Daar moet geen plek wees vir die geldmaak-god en eie-koninkryk bou nie.

Daardie boere van Ficksburg gee die Here die eer daarvoor dat hulle so ‘n groot werk in so ‘n kort tyd en so goedkoop en deeglik kon doen. Sê een van die ander leiers daar – Friedl von Maltitz: “Boere en mense in ander beroepe regoor die land kan meer dikwels helpende hande uitsteek na die owerhede wat nie die oral die mas opkom nie. En die owerhede kan gerus die hulp aanvaar van mense wat kan help. Saam kan ons baie vermag in belang van almal in ons land!”

Boere maak pad reg vir die HERE

Hier is Ds Petrus Grove op die toneel. Hy was kort-kort by  die boere wat gewerk het.

  • En wat kry die boere en hulle werkers nou vir al hulle moeite?

Dit sal wonderlik wees as die Regering dalk besluit om hulle basiese koste sal vergoed – hoewel die boere nie daarop aandring nie. Geestelik was dit egter ‘n wonderlike, verdiepende ervaring vir baie ... en die gemorspad wat honderde voertuie so verniel het, is weer bruikbaar. Net een voertuig wat afgeskryf kon word op daardie pad, het al die koste betaal.

  • Die komende naweek kom tientalle boere op ‘n plaas by Groblershoop byeen om te bid en vir die Here te vra hoe kan hulle self verander en wat kan hulle verder doen om die land en sy mense te help.

Kosproduksie is van die grootste belang en dat suksesvolle boere ander wat nie so goed vaar nie of wat min kennis en midelle het, moet help soos Koos van Zyl (oor wie ek al geskryf het) en vele ander reeds doen. 

Volgende keer vertel ek DV Koos se storie in meer besonderhede. Hy het 29 ander boere help oplei en leer boer.

 

Terwille van nuwe lesers:

Boere maak pad reg vir die HERE

Peet Simonis, skrywer van hierdie artikel, 

 is ‘n Christen joernalis, uitgewer en opleier

wat in verskeie Afrika-lande werk.

Sy kontak besonderhede is:

psimonis__@ __mweb.co.za (haal _ uit)

en telefoon: 084 582 7113 of 011 943 1602

 

Last updated: 2nd September 2010 by skryf Peet Simonis - gekry via email

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck