Afrikaans Gedigte

(Jou brief is wonderlik)

Breyten Breytenbach


(Jou brief is wonderlik)

Jou brief is wonderlik, nog groter en ligter
as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom
tuingrond is,
jou brief gaan oop iets ontvou
en van buite kom daar lug kom daar woorde
kom ruimte,

ek het in groen weivelde geslaap
ek het op die rand van die dal van doodskaduwee
in die laaste nagwaak
gelê en luister hoe die veroordeeldes
deur gange in die grond gelei word,
hoe hulle sing

met die asems in die monde
soos inwoners wat op vertrek staan
omdat die stad brand, hoe hulle sing
met die asems soos boeie,
hoe hulle sing,
hulle wat van die donker in die lig gaan spring
hulle wat gepos gaan word na 'n bestemminglose adres,
en ek het die onheil gevrees

die tafel voor my aangesig teenoor my teënstanders
is leeg, ek het as op my hoof,
my beker is leeg,

en ek het na jou brief gevlug en gelees
van die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels
wat oopgaan met die son,
ek kon dit ruik op die balkon,
ek kan jou ruik

nog heerliker en ligter as die gedagte aan 'n blom
in hierdie donker nag,

ek sal aan jou woorde aan die lug hang,
gee dat ek in jou brief mag woon
in lengte van dae

envoi,
jou brief is wonderlik, nog groter en ligter
as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom
tuingrond is,
jou brief gaan oop iets ontvou
en van buite kom daar lug kom daar woorde
kom onthou,

Last updated: 21st February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck